Branch Activities

Published on 17 September 2013

Die SAJWV, en veral ons tak, is lankal nie meer net ‘n paar ou jagters wat onder ‘n boom sit en koffie drink, en gesels oor die lekker jagte in die “goeie ou dae” nie.

Nee my vriend, die bestuurspan van Sandrivier58 is kliphard aan die werk vir die lede – om maar net enkele voorbeelde te noem:

 

Takskietdae

'n Jagter kan alleenlik suksesvol  wees as sy/haar geweer ingestel is, en indien hy/sy die geweer ken en gewoond is. Tydens ons maandelikse skietdae word daar geleentheid gegee om gewere in te stel, die rooibok-, blouwildebees-, buffel-, vlakvark- springbok- jakkals- en .22 skiettabelle te skiet .  Daar is ook altyd iemand wat raad kan gee oor skiettegnieke, ladings, ens.

Opleiding

Ons glo dat 'n jagter met kennis 'n baie groter kans op sukses het as een sonder kennis.  Daarom bied ons 'n verskeidenheid van kursusse aan wat insluit die Toegewydejagterskursus, Baanoffisierskursus, Noodhulp en nog vele, meer na gelang van die vraag/behoefte.

Ons damesskuts word ook nie afgeskeep nie. Elke derde takskiet word daar spesifiek aandag gegee aan die skoner geslag. Hulle skiet met handwapens, jaggewere en ook .22.  Weer is daar bekwame opleiers teenwoordig met die nodige raad.

Vandag se juniors in môre se leiers. Daarom dan dat ons by elke skietdag 'n spesifieke program vir die jongeres bied. Hierdie sluit in 'n kort lesing oor dieremaniere, bekruiptegnieke, voëlgeluide, ens. Dan is daar ook altyd 'n demonstrasie van voorlaaierskiet, of handwapens, of vuurmaak. Daarna kry hulle ook kans om met die windgewere en ketties te skiet.  M.a.w. vetpret.

Ledeaande

Ons lede soek ook na geleenthede waar hulle informeel kan kuier saam met ander jagters. Dis dan presies wat hierdie ledeaande bied. Daar is 'n kort formele sessie waar die administrasie afgehandel word, soos terugvoer oor skietresultate, toekomstige skietkompetisies, ens.  Dan het ons ook gereelde sprekers wat oor 'n wye reeks onderwerpe kom gesels. Hierdie onderwerpe word deur die lede voorgestel tydens sulke ledeaande. Na die "toesprake" kuier en braai ons saam, dikwels tot baie laat . . .

Ons vind ook dat al meer jagters hulle families begin saam bring.  Dit is regtig iets wat ons aanbeveel en wil bevorder. Ons vind dat sodra "vroulief" sien met wie die jagter so graag wil kuier en self hoor en sien wat tydens so ‘n aand gebeur, sy baie meer gemaklik raak met die lid se deelname aan die tak se aktiwiteite.  Wat dan ook gebeur, is dat die dames naderhand self begin skietbaan toe kom – net wat ons wil hê !

 

Please support our sponsors

orsBosveld logo 2  rssport logo     

Search

We have 13 guests and no members online